Oor Ons
Ons vir jou saam met Bravura
Nuwe gesprek reeks: Ons vir jou, ’n tree na versoening
Die twee predikante se raad aan diegene wat ’n behoefte het om gebroke bande te herstel, is dat die brug na versoening nie eensydig is nie: Meer as een mens met die wil om te versoen is die eerste stap na ware versoening.
“Ek dink nie ’n mens kan enigsins jou toon in daai water sit as jy nie bereid is om weerloos te wees nie. Ware versoening is nie moontlik as daar nie ’n oop ingesteldheid teenoor die ander is nie en ’n bereidwilligheid om kwesbaarheid en kompleksiteit te omarm,” sê Swanepoel van die NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg.
Volgens Swartz, motiveringspreker en jeug predikant van die NG gemeente Oosterlig in Pretoria, lê die sleutel tot versoening in ’n bewustheid oor mense se andersheid, al verskil hulle hoe.
“Jy het nie twee partye nodig vir vergifnis nie, maar wel vir versoening. Versoening kan nie gebeur as die een persoon wil, maar die ander nie. Iemand moet wel die eerste stap neem,” sê Swartz.
Met hul besprekings reeks getiteld Ons vir jou wil hulle individue en groepe prakties help met die moeilike werk van versoening en wedersydse begrip.
Die reeks kort besprekings programme oor versoening in Suid-Afrika word van Woensdag 20 Oktober af op Netwerk24 gestroom. Swartz en Swanepoel praat in tien episodes van ongeveer ses minute elk oor aktuele onderwerpe wat die verhoudings en interaksie tussen mense direk raak.
In elke episode het hulle ’n derde gespreksgenoot om die koffietafel wat die onderwerp met ’n verhaal, opinie of insig toelig.
Van die gaste sluit Bouwer Bosch (entrepreneur), Julius van der Wat (’n serebraal gestremde kwadrupleeg) en dr. Lindie Koorts (historikus) in.
Ons vir jou is ’n reeks onderhoude met ’n paar bekende en minder bekende Suid-Afrikaners oor prikkelende onderwerpe. Ek dink mense sal dit geniet omdat dit stimulerend en uitdagend is,” sê Swanepoel.
“Mense gaan dit ook kan benut. Ons wil graag hê mense moet dit gebruik om hul eie moeilike of uitdagende gesprekke te hê.”
Swartz het sy eie versoening stryd in Grabouw gevoer, waar hy grootgeword het. Sy pa is oorlede toe hy drie jaar oud was en sy ma het die kinders alleen grootgemaak. Swartz se oudste broer, wat hy beskryf as “ ’n monster van ’n broer”, het hulle onder meer aangerand.
Hy was 15 jaar oud toe hy en ’n vriend dié broer van hom vermoor het. Swartz is vir ses jaar tronk toe gestuur, waarvan hy vyf jaar uitgedien het.
Hy het sy matriek in die tronk voltooi en ná sy vrylating tot bekering gekom. Hy het twee grade in teologie verwerf en intussen met sy sibbes versoen geraak.
“Dis waar die passie om met jong mense te werk vandaan kom, maar ook die passie om ’n stem van versoening te bring,” sê Swartz.
Deel van sy persoonlike stryd is om sin te maak van wat dit beteken om ’n 48-jarige wit Afrikaanse man in Suid-Afrika te wees. Ook, die lidmaatskap van die NG kerk, wat op sigself nie sonder sy kompleksiteit is nie, sê Swanepoel.
Sy hoop is dat mense met ’n oop hart na Ons vir jou sal kyk en dat Suid-Afrikaners nader aan mekaar sal beweeg.
Volgens Swartz is hierdie reeks een van die pogings om Suid-Afrikaners te kry om meer en openlik met mekaar te gesels in ’n omgewing waar ons mekaar se verskille op die tafel kan sit.
“Nie daai verskille as die bepalende faktor van ons identiteit nie, maar dat dit oukei is om anders te wees solank ons met en nie oor mekaar praat nie.”
Swartz sê mense sal daarby aanklank vind omdat dit oop gesprekke is wat almal raak.
“Dit het baie aktuele raakpunte vir die gewone Suid-Afrikaner.”